Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS – SONDAG 25 April 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met ’n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZSOJPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)
In die nuus vandag:

U luister na ZS6SRL. Die hoogtepunte van die SARL se pas afgelope Nasionale Konvensie is vandag in die kollig.

NUWE SARL-RAAD VERKIES
NIE-LEDE WAT NOU AANSLUIT, KRY MEI EN JUNIE PASELLA
TOEKOMS VAN AMATEURRADIO BEHOORT AAN JEUG
2009-TOEKENNINGS
KOMPETISIETOEKENNINGS

NUWE SARL-RAAD VERKIES

Tydens die AJV in Port Elizabeth gister is Dennis Green, ZS4BS, verkies tot President, met Mark Zank, ZS6YES, tot Visevoorsitter. Henry Chamberlain, ZS1AAZ, is aangestel as sekretaris en Louw Erasmus, ZS6LME, as regsadviseur. Die Raad sal binne die eerskomende 2 weke vergader om portefeuljes toe te ken aan die ander raadslede. Rassie Erasmus, ZS1YT, die uittredende President, sal voortgaan as Tesourier.

Benewens die normale AJV-sake, was een van die ander hoofitems op die agenda die mosie om die grondwet te verander. Na 'n kort bespreking van die voorgestelde veranderinge, is 'n voorstel ingedien wat die Raad versoek het om die mosie terug te trek. 'n Oorgrote meerderheid van 218 lede het uiteindelik gestem om die grondwet te verander soos voorgestel, met 31 lede wat daarteen gestem het. Die nuwe grondwet tree onmiddellik in werking. Die regsadviseurs het daarop gewys dat die veranderinge aan die grondwet hoofsaaklik kosmeties is. Die SARL-webwerf sal so gou doenlik aangepas word.

Die AJV het ook die ledegeld vir 2010/2011 aangepas. Gewone lede se gelde is verhoog van R340 tot R360 per jaar. Die ander klasse van lidmaatskap is met soortgelyke persentasies verhoog. Die webwerf sal volgende week aangepas word. Klubaffiliasiegelde is gestandaardiseer en is nou R120 per jaar.

In sy jaarverslag het die President die aktiwiteite van die afgelope jaar bespreek. Die volledige verslag word eerskomende Maandag op www.sarl.org.za geplaas.

NIE-LEDE WAT NOU AANSLUIT, KRY MEI EN JUNIE PASELLA

As u vandag by die SARL aansluit teen die 2010/2011 fooie, sal u gratis lidmaatskap vir Mei en Junie geniet. U ledegeld vir die volgende 14 maande sal u dan R360 kos, minder as 85 sent per dag, min genoeg om u stokperdjie te beskerm.

TOEKOMS VAN AMATEURRADIO BEHOORT AAN JEUG

Jongmense is die toekoms van amateurradio en ons sal moet aanpas as ons hulle wil oorhaal. Dit was die boodskap van die President van IARU Streek 1, Hans Blondeel Timmerman, PB2T. Hy het afgevaardigdes gisteraand tydens die SARL-toekenningsdinee in Port Elizabeth toegespreek.

Hy het gesê dat die verwagtinge van die jeug baie anders is as dié wat die huidige geslag aangemoedig het om radioamateurs te word. Wat ons toe geïnteresseer het, begeester nie die jeug van vandag nie. “My raad is om baie van dit wat ons ken en geniet, te laat gaan en die jeug toe te laat om te doen wat hulle geniet.Hulle fokus is meer visueel. Hulle verlustig hulle in nuwe tegnologie, maar wil hê dat dit vinnig moet gebeur.

“Klubs kan baie doen om amateurradio te bemark. Begin 'n junior afdeling met ‘n jong leier in julle klub. Fokus op die visuele, vituele en nuwe tegnologie. Bemark amateurradio as 'n kunsvorm en 'n wetenskap in eie reg, weg van die Internet en selfone. Senior lede behoort die hulpbronne en ondersteuning te voorsien en die jeug vrye teuels te gun. Ons benodig dringend 'n nuwe beskouing,” het Timmerman gesê.

“Op die regulatoriese front moet ons, as die IARU en nasionale verenigings, ons spektrum-behoeftes regverdig. Fokus op die ondersteuning wat amateurradio aan noodkommunikasie bied. Gemeenskappe benodig tegnies vaardige mense, ons moet die jeug in daardie rigting inlei. Ons moet verslag doen oor ons tegniese werk en ook deelneem aan wetenskaplike navorsing.”

Timmerman het afgesluit deur te beklemtoon dat die jeug ons toekoms. Ons moet trots wees op ons prestasies; amateurradio is lewendig, maar amateurs moet nie op hulle louere rus nie. Ons kan baie beter doen!

2009-TOEKENNINGS AAN ONS STERRE

Tydens die galadinee is SARL-toekennings gemaak vir tegniese prestasie, die ondersteuning van amateurradio, en kompetisieprestasies. Die SARL se hoogste toekenning, Lewenslange Erelidmaatskap, is gemaak aan twee veteraanlede van die Liga.
George Honiball, ZS6NE, het die toekenning ontvang vir sy ondersteuning van en pligsgetroue toewyding aan SARLNUUS, die SARL se nuusdiens, en die bevordering van die gebruik van Afrikaans.

Rassie Erasmus, ZS1YT, het die toekenning ontvang vir sy talle jare van diens as lid van die Raad, tesourier, vise-President en President.

Karl Heinz Canitz, ZS1KC, het die Willy Wilson Goue Wapen-toekenning ontvang vir sy jarelange diens aan amateurradio, die onderrig van nuwelinge en hulle inskakeling by amateurradio.

'n Aantal Jack Twine-merietetoekennings is gemaak vir waardes soos onbaatsugtigheid, ordelike werkverrigting en ‘n daadwerklike belangstelling in amateurradio en sy werksaamhede. Die volgende lede is vereer:

Paul Johnson, ZS1BR
Peter Henochsberg, ZS1PMH
James Timoney, ZS1TK
Martin Cyril Schwella, ZS4MS
Chris Gryffenberg, ZS6COG
Johann du Plessis, ZS6PSS
Mark Zank, ZS6YES
Craig Symington ZS6RH
Bruce Robinson, ZS1FX

Die Icom Uitnemendheidstoekenning is aan John Willescroft gemaak vir sy volgehoue en aktiewe werksaamhede om tegniese vaardigheid in die amateurradio-gemeenskap uit te bou. Hy word verder erken vir sy aanbiedinge by die Radio Tegnologie in Aksie-simposiums, die ontwikkeling en aanbieding van die PIC en tuisbou-kursusse en die ontwikkeling van boustelle.

Die Arthur Hemsley 2 m-trofee is aan Pine Pienaar, ZS6OB, toegeken vir sy reëlings ten tye van die Namibiese VHF, A-M-A en Satelliet DXpedisie. Spesifieke vermelding is gemaak van die konstruksie van die antenna-ondersteunings en die verskillende antenna-rignette.

Die Joseph White-gedenkplaat is aan Derek Gravett, ZS5Y, toegeken vir sy voltooiing van die heel eerste Réunion-Suid-Afrika QSO op 70 cm.

Die Buckley Ses Meter-trofee is aan Willem Badenhorst, ZS6WAB, toegeken vir die heel eerste A-M-A-kontak op 4 m. Dit is ook ‘n wêreldrekord.

Die Radio ZS Twee Meter-wisseltrofee vir die langste afstand op 2 m gedurende die jaar is aan Andre Botes, ZS2ACP, toegeken vir die daarstel van ‘n nuwe 2 m-troporekord.

Die Radio ZS-skild vir die beste ondersteuning van Radio ZS gedurende die jaar is toegeken aan Frank van Wensveen, ZS6TMV/PA3GMP.

Die JJ Pienaar-trofee is aan Vincent Harrison, ZS6BTY, toegeken uit erkenning vir die beste artikel wat gedurende die jaar in Radio ZS geplaas is. Die titel was “Vertikale en Horisontale Antennas, 'n werkverrigtingsvergelyking”.

Die Gary Immelman RA-erfenistrofee, vir die beste artikel van 'n historiese aard oor 'n geleentheid wat meer as vyf jaar vantevore plaasgevind het, of van ‘n interessante persoonlikheid wat 'n belangrike rol gespeel het in die ontwikkeling van amateurradio in vergange jare, is aan Hans van de Groenendaal, ZS6AKV, toegeken vir sy artikel “ Afrika se eerste A-M-A”, oor die werk van wyle Peter Carey, ZS6JT.

Die Arland Ussher Goue Pen-toekenning aan die student wat die hoogste punte in die RAE verwerf het, is vanjaar aan Louis Mitchell, ZS6LWM, toegeken.

Die Tinus Lange 7066 Tegniese Uitmuntendheidstoekenning word aan Andre Botes, ZS2ACP, gemaak vir sy “Die PW MEON 70MHz Omskakelaar-herbesoek”.

Die Hamnet Toekenning is gemaak aan die Wes-Kaapse Hamnetspan. Onder die leierskap van Bruce Robinson, ZS1FX, het die Wes-Kaapse Hamnet 'n baie effektiewe en waardevolle span geword wat talle sport- en ander geleenthede ondersteun.

KOMPETISIETOEKENNINGS

SARL se kompetisiekomitee het die volgende trofeë en toekenning oorhandig vir uitstaande prestasies gedurende kompetisies.

Die Stilsleutel-gedenktrofee SSB, vir die hoogste puntetelling gedurende die jaarlikse HF-foonkompetisie, is toegeken aan David Hutchinson, GI4FUM.

Die Stilsleutel-gedenktrofee CW vir die hoogste puntetelling behaal gedurende die jaarlikse HF CW-kompetisie, is gewen deur die Wes-Randse Amateurradioklub, ZS6WR.

Die Joseph White-trofee vir die hoogste puntetelling op enige band gedurende die jaarlikse HF-foonkompetisie is toegeken aan Rosalie van Loggerenberg, ZR2RL (nou ZS2DN).

Die Fred Mills-trofee vir die hoogste puntetelling deur ‘n mededinger wat nog nooit vantevore 'n SARL-kompetisie gewen het nie, is toegeken aan Daniel Mans, ZS3D.

Die Anon-trofee vir die hoogste telling op enige band gedurende die jaarlikse HF CW-kompetisie is gewen deur Vidi la Grange, ZS1EL.

Die HOS-beker vir die amateur wat die hoogste gesamentlike telling in beide die jaarlikse HF-kompetisies behaal het, is toegeken aan David Hutchinson, GI4FUM. David, lid van SARL, was die leier van die 3DA0DJ DX-ekspedisie.

Die Klubdeelnametrofee is toegeken aan die ZS-kompetisiegroep.

Die Ray Webber ZS6RSW VHF/UHF-trofee is toegeken aan die Magalies-amateurradioklub.

Die SARL-Presidentstoekenning is gemaak aan twee amateurs wat uitgeblink het in satellietkommunikasie deurdat wêreldrekords vir langafstande gewerk op OSCAR 7 behaal is. Hulle is Andre van Deventer, ZS2BK, en Pierre van Deventer, ZS6BB, wat nuwe afstandsrekords via AO-7 opgestel het. Die twee broers het ware amateurradiogees openbaar.

Eers het Pierre, ZS6BB, op 2 Januarie 2001 sy broer se bestaande rekord verbeter deur op 'n afstand van 7 630 km met Luciano, PY5LF, kontak te maak. Nie lank daarna nie het Andre, ZS2BK, sy rekord herwin met ’n wêreldrekordafstand van 7 694 km op 8 Januarie deur kontak te bewerkstellig met Piraja, PS8RF. Pierre het die uitdaging aanvaar en die rekord weer syne gemaak deur op 18 Januarie ‘n afstand van 7 766 km met Josep, EA6SA, te werk.

Die SARL wens al die toekenningswenners van harte geluk.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Die week se klein proto-sonvlek het weggekwyn voordat hy 'n genommer kon word. Daar is amptelik vir meer as agt opeenvolgende dae geen sonvlekke nie. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan tussen 10 en 15 wees. NASA se "Solar Dynamics Observatory" het begin om ongelooflike beelde van die son terug te sein aarde toe. Selfs ervare son-fisici is deur die data verstom. Die SDO is op 11 Februarie gelanseer en is die afgelope twee maande in 'n geostasionêre wentelbaan geplaas en sy aanboordinstrumentasie geaktiveer. Gaan kyk na die beelde by www.spaceweather.com. Volg die skakel onder "Stunning images of the sun".

15 m is die beste keuses vir DX gevolg deur 17 en 20 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en saans gaan toestande na Europa goed wees. Kontakte met Australië gaan soggens om ongeveer 8-uur vir 'n kort rukkie moontlik wees. Kontakte met die VSA gaan uitdagend wees. Smiddags en vroegaand gaan toestande op 15 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggende en laatmiddae goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate lewer. 20 m is baie bruikbaar bedags en goeie kontakte kan oor die langer afstande gemaak word.

Saans is 80 m die beste keuse. Met die seisoenswending is die geraasvlakke ook besig om te daal. 160 m behoort ook binnekort goeie kontakte op te lewer.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.


DAGBOEK VAN GEBEURE

7 Mei – Sluitingsdatum vir Fase 2 van Konstruksiekompetisie.
8 Mei – Tegnologiese Hoërskool John Vorster Amateurradioklub se snuffelmark.
29 Mei – RTA-simposium in Durban.
24 Julie – RTA-simposium in Kaapstad.
21 Augustus – RTA-simposium in Port Elizabeth.
31 Augustus – Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-kompetisiehandboek.
18 September – RTA-simposium in Gauteng.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars deur te stuur. Stuur dit indien moontlik in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook ’n potgooi-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. ’n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na ’n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Leon, ZS4V, saamgestel en deur Hester van der Walt geredigeer is.

Dankie dat u saamgeluister het.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003